’n Leerder wat Digitale Elektronika neem, toon ’n sterk belangstelling in rekenaars, programmeerbare GS’e, Boole-algebra, mikrobeheerders, stelselbeheer, prosesseerders en programmering.
In Graad 10 word ’n leerder bekendgestel aan die beginsels van elektrisiteit en elektronika, soortgelyk aan die elektronikaleerder.
In Graad 11 skuif die fokus na Digitale Elektronika en Boole-algebra. Die leerder word ook aan kommunikasiestelsels blootgestel as o.a. ’n hoeksteen van digitale stelsels. Terselfdertyd word die leerder aan ’n paar aspekte van motors en beheer blootgestel deur die toepassing van onder andere pulswydte-modulasie — wat op sy beurt die wêreld van robotika, koppelvlakstelsels en megatronika ontsluit.
In Graad 12 word ’n leerder georienteer in “intelligente” mikroskyfies. In hierdie geval word die leerder geleer om mikroskyfies te programmeer om sodoende oplossings volgens behoefte te ontwikkel. Die leerder word in staat gestel om basiese robotika en megatronika te ondersoek — wat op sy beurt weer die grondlegging doen vir ’n loopbaan in industriële elektronika en beheer.
Die leerder in Digitale Elektronika behoort direk na skool ’n ingenieursloopbaan aan ’n universiteit te volg. Toeganklike loopbane sluit in digitale ingenieurswese, vervaardigingstelselontwerp, informasietegnologie, programmering en selfs die filmindustrie, waar robotika en spesiale effekte in rekenaargrafika toegepas word. Verdere studies bring die leerder, met die korrekte vakkombinasies, nader aan ’n loopbaan as elektroniese tegnikus/tegnoloog of elektroniese ingenieur.