Bergfiets
Bergfiets
In 2025 eindig ons as een van die top 10-skole in Gauteng en 6 van ons leerders is uitgenooi om tydens 3 en 4 Oktober aan die Nasionale Kampioenskappe by Hoërskool Piet Retief deel te neem. Ons het ook vir die eerste keer drie dogters wat vir HTS JV deelneem.
Elke fietsryer werk hard, want elke wedren het unieke uitdagings waarop daar gefokus word — bv. spoed, tegniek, klim — en dan moet ’n mens nog jou senuwees ook onder beheer hou.
Ons het heelwat topposisies behaal. Top-20 tot -25 is vir baie ryers dié uitdaging, want dan kwalifiseer hul om tydens die volgende wedren met die “wit trui” (die A-spanhemp) te ry. Wium du Toit, ons top-senior ryer van 2025, het vir twee wedrenne die leierstrui gedra en is as nommer 1 in die Gautengse o/19-ouderdomsgroep aangewys.
Ons finale top-ryers na 5 wedrenne, beide Wium du Toit en Quintin Knoetze (o/16), het provinsiale kleure ontvang waarmee hul by die Nasionale Kampioenskappe, nie net die skool nie, maar ook die provinsie gaan verteenwoordig.
Wium du Toit was ook die wenner van die halfmaraton-afdeling van die Trailseeker-reeks. Quintin Knoetze behaal nie net in bergfiets nie, maar ook provinsiale kleure in padfiets en neem aan beide Nasionale Kampioenskappe in Oudtshoorn deel. Adriaan de la Rey is tans vyfde in Gauteng in die o/16-kategorie.
Ons skool is die enigste skool wat ’n roete op ’n berg het en dit word beskou as die mees uitdagende tegniese roete van die reeks. Die bergfietsroetes op die Magaliesberg, agter die skool, is aanvanklik deur oom Heinrich Moldenhauer uitgelê en ons bou nou voort saam met afrigter Lionel en Coaches Fitness Centre om die roete gereeld aan te pas en meer uitdagend te maak.