Siviele Tegnologie: Siviele Dienste fokus op die noodsaaklike stelsels wat ’n gebou funksioneel, higiënies en volhoubaar maak.
Hierdie vakgebied handel hoofsaaklik oor water- en sanitasie-dienste en sluit die voorsiening van koue en warm water, asook die verwydering van afval- en stormwater, in. Leerders leer hoe om water veilig en doeltreffend na geboue te lei en hoe om riool- en dreinerings-stelsels, wat aan gesondheids- en veiligheidsvereistes voldoen, te installeer.
’n Belangrike komponent van Siviele Dienste is die studie van verskillende materiale, pype, verbindings en toebehore, asook die korrekte installasie daarvan volgens regulasies en standaarde. Die vak beklemtoon ook veilige werkspraktyke, funksionele gereedskap-gebruik en die lees en interpretasie van tegniese tekeninge.
Verder word daar toenemend aandag gegee aan omgewings-vriendelike tegnologie, soos waterbesparende toestelle, herwinning van gryswater en energiedoeltreffende warmwaterstelsels.
Leerders ontwikkel praktiese vaardighede wat direk toepaslik is in die loodgieters- en siviele dienstebedryf. Hierdie kennis vorm ’n sterk grondslag vir loopbane as loodgieter, of verdere studies in Siviele Ingenieurswese en verwante velde.